Rapport
News Article June 15 2002
By dié huis van liefde is elke kind waardevol
Jun 15 2002 05:10:04:000PM
Nicholas is sy naam. Klein vir sy sowat drie jaar, strek hy sy arms sonder
enige terughoudendheid met 'n "tel-my-op"-gesiggie uit. Tony
Palmer hoef nie te bevestig dat Acres of Love, 'n tuiste vir weggooikinders
met MIV/vigs, 'n plek van hoop en liefde is nie.
Nicholas is sy naam. Klein vir sy sowat drie jaar, strek hy sy arms sonder
enige terughoudendheid met 'n "tel-my-op"-gesiggie uit. Sit
dan rustig sy kop op jou bors en begin om jou gesig met klein handjies
te verken.
Tony Palmer, uitvoerende hoof, hoef nie te bevestig dat Acres of Love,
'n tuiste vir weggooikinders met MIV/vigs in die rykmansbuurt Bryanston,
'n plek van hoop en liefde is nie.
Nicholas is die beliggaming daarvan.
Acres of Love het in 1998 in 'n woonhuis langs die Jukskeirivier begin.
Sedert Desember verlede jaar is twee buurhuise aangekoop en die huise
is tans 'n tuiste vir sestien vigswesies.
Die kinderhuis, wat begin is deur Gerda Audagnotti omdat sy graag vir
weggooikinders met vigs dit wou gee wat haar eie kinders in oorvloed gekry
het - tonne liefde, goeie mediese versorging en 'n huislike atmosfeer,
is in 'n veiligheidsdorp. Oor die redes vir die stigting van die tuiste
vertel Gerda dat sy deur die jare heen diep geraak is deur die behoeftes
van wesies wêreldwyd.
"My man, Ryan, het altyd gesê hy weet presies watter boek
ek sal kies of watter tydskrif- of koerant-artikel my aandag sal trek.
Begin 1998 het ek Acres of Diamonds van Russel H. Conwell gelees. Hy het
die Temple-universiteit en die Temple-hospitaal in Philadelphia in Amerika
begin. Die hospitaal is begin juis omdat die behoefte aan mediese hulp
groot was. Conwell se benadering was: huur 'n kamer en 'n verpleegster
en begin.
"Wat my gë?nspireer het, was dat ons nie hoef te wag om iets
groots te gee nie, maar wel moet gee wat ons kan."
Gerda en Ryan het die huis in Bryanston, wat die eerste Acres of Love-huis
geword het, jare lank verhuur. "Ons het die gesondheidsdepartement
se goedkeuring gekry, veranderings aangebring en aansoek gedoen om kinderhuisstatus."
Die wesies word daarheen gestuur deur onder andere die polisie of die
howe.
Gerda sê die grootste inspirasie daarna was die gemeenskap se betrokkenheid.
"Ek het besef mense wil help - hulle weet net nie altyd waar en hoe
nie. Die skole in die omgewing soos St. Stithians College, Brescia House
en Bryanston High het Acres of Love hul gemeenskapsprojek gemaak. 'n Ma
moet maar altyd die jong, vrywillige werker aflaai en voordat jy weet,
is die ma ook betrokke.
"Kerke, dokters en selfs die hospitale is betrokke op een of ander
manier. Die oortollige skenkings en kos stuur Acres na 'n plakkerskamp
naby ons."
Gerda en Ryan woon deesdae in Amerika, waar hulle vir Acres geld insamel.
Die grootste deel van die finansiering kom van Amerika.
Volgens Palmer is die belangrikste rol van die vrywilligers om die wesies
liefde te gee. Hulle kom speel met hulle, help hulle voed, trek hulle
skoon aan of hou net die kindertjies vas.
"Acres of Love is nie 'n plek waarheen vigswesies kom om te sterf
nie. Hulle kom om te leef in wat hul tuiste word."
'n Deel van die taak is om vigswesies wat ná behandeling (goeie
kos en mediese sorg) negatief toets deur aannemingsagentskappe aangeneem
te kry. Sestig van Acres se kinders is al aangeneem in Suid-Afrika, Swede,
Duitsland, Kanada en Amerika.
Vir die res bly die huis 'n tuiste tot ná hul universiteitsopleiding.
Oor sy betrokkenheid by die huis vertel Palmer dat hy tot verlede jaar
in Italië gewoon het waar 'n blink toekoms in die ontwerp van vliegtuie
en satelliete op hom gewag het. Hy wou nog altyd terugkeer Suid-Afrika
toe en toe die wekroep kom, het hy teruggekeer.
Hy is onder meer ook in beheer van bemarking en geldinsameling. Die huis
se eerste groot geldinsamelingsgeleentheid was onlangs in Honeydew, waar
sowat R180 000 ingesamel is, genoeg om as deposito te dien vir die derde
huis wat aangekoop is.
Oor die toekoms sê Palmer die mikpunt is om sowat duisend soortgelyke
tuistes in goeie buurte dwarsoor Suid-Afrika te vestig.
Janis Evans bestuur tans die huis.
Van haar sê Gerda: "Sy is werklik geroepe, is vol liefde vir
die kinders en laat almal altyd welkom voel by Acres of Love. Sy beskou
elke kind as waardevol en uniek en gee liefdevol leiding aan die vrywillige
werkers.
"Elke kindjie wat na Acres kom, is gebroke en verwerp en om ná
'n tydperk die verandering in hul lewe te sien, is vir my die wonderlikste."
Saam met Palmer en Evans is daar sewentien permanente personeellede.
|